Sonata - Sonata skuif ál nader aan die grotes

Brand: Hyundai South Africa
Address:
138 Van Riebeeck Ave
Edenvale
1600
Phone:
0861427222
Fax:
Email:
Web: http://www.hyundai.co.za/

Sonata skuif ál nader aan die grotes

4 July 2013, 9:55 am

Waar is die dae toe Suid-Afrikaners nog gegis het oor of Hyundai dit gaan maak in Afrika of nie? En die tydperk van wag-en-kyk wat daarop gevolg het?
Daardie jare is lank reeds verby. Niemand wonder nog of Hyundai sy vaandel op plaaslike bodem gaan laat wapper nie.
Ja, hy het dit gemaak. Vandag, 14 jaar later, is daar 110 handelaars landwyd en ons weet nou ook hoe om dié Koreaanse naam uit te spreek: “Hyundai” rym met “Sunday”, sê die groep.
Soos wat met ’n rits Hyundai’s die afgelope jaar of wat gebeur het, het ook die Sonata nou ’n vernuwing ondergaan wat ’n mens deesdae twee keer laat kyk as een van hulle verby jou ry.
Die groep het die Sonata-reeks visueel binne en buite opgeknap terwyl die topmodel nou ook die Koreane se nuwe 2.4 liter-enjin kry, asook ’n nuwe outomatiese sesgangratkas.
Die ontrimpeling is die gewone “halfpad deur sy modelsiklus”-affêre. Die buffers voor en agter het ’n nuwe, skoner ontwerp terwyl daar nou ook ’n repie LED-lampies onder by die misligte is wat regdeur die dag skyn. Die voorbuffer het parkeersensors as standaard ingebou.
Agter skyn die LED-remligte helderder terwyl Hyundai die Sonata ook van groter 18 duimwiele voorsien het met ’n nuwe sierwiel-ontwerp.
Binne is die instrumentpaneel ’n bietjie reggetrek met ’n raakskerm in die middel wat nou die nuwe fokuspunt is.
Die raakskerm beheer al jou gewone funksies soos satnav, klimaatbeheer en die klankstelsel. Dis nie net modern nie, maar bied ook ’n skoner voorkoms.
Ander luukses sluit in ’n USB-sok en ’n Bluetooth-koppeling vir indien jy jou slimfoon of iPod met die radio wil verbind.
Die grootste nuus oor die opgeknapte Sonata is die nuwe enjin en ratkas wat jy voortaan in die topmodel, die 2.4 Elite, kan kry. Die 2.4 liter-enjin vervang die ou enjin van dieselfde grootte, maar gebruik brandstofinspuiting onder hoë druk.
Hyundai noem dié nuwe enjins “GDi”-enjins (gasoline direct injection) om dit te onderskei van die vorige enjins met gewone inspuiting. Die hoër inspuitdruk sorg vir skoner, doeltreffender ontbranding.
In die praktyk kry jy nou ’n effens laer emissiesyfer (188 g/km teenoor die ou 212 g/km) terwyl verbruik ook ’n raps laer is (7,9 liter/100 km teenoor 8,2 liter/100 km).
Laastens sal jy ook in jou ritgehalte ’n verskil voel. Sowel die krag (148 kW) as die wringkrag (250 Nm) is met sowat 10 persentasiepunte op.
Hoëdruk-inspuiting word al tien jaar lank deur Europese vervaardigers met groot sukses ingespan.
Die Europeërs kombineer dit deesdae met turbo-tegnologie, wat hulle in staat stel om dieselfde kragsyfers te lewer, maar met ’n veel kleiner enjinverplasing en brandstofverbruik.
Hyundai het dus ingehaal met die ontwikkeling van sy eie hoëdruk-inspuitingtegnologie en vaar selfs beter as sy vernaamste Japannese mededingers. Dit skiet nog effens tekort wat kraglewering aanbetref as dit met Europese turbo-enjins vergelyk word.
Die goeie vordering van die Koreane is ook in die Sonata se nuwe outomatiese sesgangratkas te bespeur. Nes die enjin is die ratkas ook self deur Hyundai ontwerp en gebou (VW, BMW en Audi gebruik toenemend die van buiteverskaffers).
Die sesgangratkas sorg vir ’n gladde oorskakeling en daar is ook spane agter die stuur waarmee jy self van rat kan verwissel.
Terwyl jy ry, sal die rekenaar ook vir jou kan aandui wanneer jy na ’n volgende rat moet oorskakel om doeltreffender te bestuur.
Hoewel die Sonata nie ’n sportmotor is nie, is die bestuurservaring aangenaam, selfs wanneer jy voet in die hoek sit om vinnig by stadige verkeer verby te gaan.
Die hantering tydens die Kaapse bekendstelling deur skerp draaie – Bainskloof buite Wellington het baie uitdagende draaie – was gerieflik en doeltreffend vir so ’n relatief groot model.
Die opgeknapte Sonata vergelyk gunstig met sy mededingers, veral as standaardtoerusting in ag geneem word.
Die Sonata se grootste mededingers is die Mercedes C200, Audi A4, BMW 320i en die Honda Accord. Dit vertel al klaar iets van hierdie haastige, swierige nuweling.
• Prys: Sonata 2.4 GDi Elite – R379 900.
Die prys sluit ’n 5 jaar/ 150 000 km-waarborg, ’n 5 jaar/ 150 000 km-padbystandplan en ’n 5 jaar/90 000 km-diensplan in.


Read More: News on Volksblad / Author - Francois Lötter / Hyundai South Africa / Sonata

Comment



Rustenburg Pest Free

LiSaMARI TAXI's PTY Ltd

Democratic Alliance

Crime prevention

Toyota Genuine Parts

Free Hotpsot

Complaints, Recommendations, Suggestions